Hallo Reader
Johan Pretorius, tuisskoolpa van die Kaap, gesels in hierdie week se potgooiepisode oor sweeftuie en sweefvlieg.
(En ja, hy beantwoord die vraag, wat maak jy as jy in die lug ʼn draai moet loop.)
Ons het veral gefokus op al die leergeleenthede wat sweefvlieg vir tuisskolers bied.
Kom ek noem vir jou ʼn paar.
Hoe vlieg ʼn vliegtuig nou eintlik? Wenk: dis nie soseer sy enjin wat die moontlik maak nie!
Wat gebeur met jou longe se suurstofkapasiteit as jy baie hoog vlieg? Dis hoekom jy ekstra suurstof moet saamvlieg as jy ver vlieg.
Waar kry jy ʼn veilige plek om te land? Hierdie vraag moet mens kan antwoord as jy ʼn formele sweeftuiglisensie wil kry, wat jy moet uiteindelik op jou eie ʼn vlug onderneem wat jy so ver van jou basis af neem dat jy nie kan omdraai nie. Jy moet dan weet waar jy veilig kan land. Of jy moet weet hoe om lugstrome te benut om genoeg hoogte te kry om terug te sweef.
Maar amper die belangrikste lesse wat mens in hierdie sportsoort moet leer, is die emosionele lesse.
Soos dat jy moet leer om jou eie paniekreaksies, wat vanself geaktiveer word sodra jou sintuie en brein met genoeg stimuli daar bo in die lug gebombardeer word, doelbewus moet bestuur en altyd goeie oordeel aan die dag kan lê. Jy leer dus koelkommer bly.
Jy moet ook leer om vooruit te beplan. Jy moet onder andere genoeg water en suurstof vir langer vlugte saamvat.
Sweefvlieg is ʼn wonderlike sport vir ʼn tiener wat enigsins in vlieg belangstel. Daar is net soveel lesse en vaardighede te leer.
Maar soos alle vlieglesse is dit duur.
En dis veral hier wat Johan goeie inligting en ʼn bekostigbaarder alternatief vir ons gewone tuisskolers verskaf.
Johan is lid van die sweefklub op Worcester in die Wes-Kaap en hy verduidelik so ʼn klub maak leer sweef meer koste-effektief. As klublid moet jy uiters toegewyd wees en bereid om te help met minder opwindende takies soos sweeftuie uit die skuur stoot of administratiewe werk. Dit verg ook baie van jou tyd.
Maar in ruil vir die werk wat jy doen, het jy nou die geleentheid om opgelei te word deur die room van vlieëniers, soos selfs professionele Airbus vlieëniers of mense met ure en ure se kommersiële vlugte onder die blad.
Gelukkig is Worcester nie die enigste plek in die land met so ʼn hangsweefklub nie.
KLIK HIER vir ʼn kaart van al die klubs in Suid-Afrika.
Johan se liefde vir sy sportsoort straal uit elke staaltjie en verduideliking.
“Soms is mens gelukkig genoeg om in dieselfde warmlugstroom as ʼn witkruisarend te beland. Dis ʼn vreeslike groot kompliment, want dan weet jy nou vlieg jy saam met die ‘professional’,” vertel hy entoesiasties.
Luister HIER na hierdie heerlike onderhoud.
Dis ook beskikbaar op Apple Podcasts,
En op Spotify.
Jy kan ook op YouTube daarna kyk.
Lekker leer vlieg.
Marisa
Ns. Johan het die feite nagegaan en ontdek dat mens ten minste 14 jaar oud moet wees om ʼn leerlinglisensie vir ʼn sweeftuig te kry en 16 jaar oud vir ʼn volwaardige lisensie. Jou kind kan dus taamlik vroeg met hierdie leersame sport / stokperdjie begin.
Hallo Reader Hoe kan ek leer makliker vir my kinders maak? Dis ʼn vraag wat elke tuisskoolma soos jy haarself afvra. Hierdie week gee ek vir jou vyf wenke wat jou hiermee gaan help. #1 Gebruik die vier leerstyle (visueel-ruimtelik, lees, ouditief en om deur beweging te leer) maar doen dit op ʼn meer gesofistikeerde manier #2 Verstaan wanneer jy jou kind se selfbeeld moet uitbou en wanneer jy hom of haar moet help om vaardighede in te oefen #3 Leer van die nuwe navorsing wat vir eens en vir...
Hallo Reader In die goeie ou dae toe ons nog met ’n karavaan gaan vakansie hou het, slaap ons een jaar by die Gariepdam oor. Een van die lekkertes van kamp is dat mens nader is aan alles – behalwe die toilette! Nader aan die natuur, nader aan ander mense. Vir ons oorslaapnag is daar toe ander groep mense met seuntjies van omtrent ons Johannes se ouderdom. Hy was toe seker so ses, sewe jaar oud. Johannes is lus om maats te maak, maar hy weet nie hoe om te begin nie. Die ander seuntjies ken...
Hallo Reader Daar is vir my twee soorte swaarkry. Die een is amper soos om 100 meter te hardloop. Dis intens en verg baie inspanning, maar dis gou verby. Soos ʼn operasie of ʼn siekte of die ma wat verlede week vir my geskryf het hoe hulle gesin vasgekeer was in die onluste in KwaZulu Natal en hoe benoud hulle was. Die ander soort swaarkry is meer soos ʼn marathon. Dit hou aan en aan. Wat beteken dat jy ʼn pas moet aanslaan wat jou gaan help om die wedren klaar te maak. In ʼn marathon moet jy ook...