Het jou kind taalprobleme? Hier’s ʼn plan


Hallo Reader

Om jou kind se taalvermoë sterk te maak, moet jy net met jou kind praat, so verduidelik taal- en spraakterapeut Lize van Merwe.

Lize, self ʼn tuisskoolma, voel baie sterk daaroor om ma’s te bemagtig om hulle kinders self te leer.

As spraak- en taalterapeut het dit haar gepla dat sy net 45 minute per week met ʼn kind deurbring om taalagterstande te probeer uitwis, maar dan het die kind verder geen tyd om die konsepte in te oefen nie.

Lize het toe besluit om opleiding te kry in ʼn Kanadese model waar ʼn terapeut baie meer met die ouer as met die kind werk en die ouer as’t ware leer om die werk self te doen. Die naam van hierdie stelsel is die Hanen metode.

Vir 12 weke lank een maal per week gee Lize aanlyn vir ouers binne-in ʼn groep leiding hoe om met hulle kinders te praat. Deur praktiese raad en wenke leer ouers hoe om hulle kinders baie meer effektief met hul taalontwikkeling te help. Die feit dat ouers die sessies saam met ander ouers doen, help boonop dat almal by mekaar leer.

Elke week gaan die ouers dan terug huis toe en is nou voorberei om situasies in hulle alledaagse lewe raak te sien en te benut om elke dag vir ʼn paar minute hulle kinders se taalvermoë uit te bou.

Die klasse is in Engels, maar die beginsels kan in enige taal toegepas word. Lize se kursus is ook internasionaal beskikbaar, maar sy het ʼn baie, baie spesiale prys vir Suid-Afrikaanse ma’s.

Luister gerus hier na hierdie week se potgooi waar ons weer bevestiging kry hoe belangrik dit is om met jou kind te praat. Ook watter rol dit in jou kind se uiteindelike leessukses speel.

Onthou die potgooi is ook beskikbaar op Apple Podcasts en by Spotify.

Hierdie week is die onderhoud ook op YouTube gelaai. Kyk gerus HIER daarna.

As jy voel jou kind kan baat by beter taalontwikkeling, en veral as jou kind jonger is as ses jaar, sal jy dalk belangstel om Lize se gratis werkswinkel oor haar program by te woon. Dit vind volgende Donderdag, 1 Julie om 19:00 plaas.

KLIK HIER vir meer inligting.

Lekker luister en leer by hierdie entoesiastiese spraak- en taalterapeut en mede-tuisskoolma.

Marisa

Ns Dis met 'n stukkende hart wat ek vandag hierdie e-pos opstel. Ek het omtrent drie ure gelede verneem dat my ma in Suid-Afrika aan Covid oorlede is. Baie, baie sterkte aan almal en hulle families wat op die oomblik teen hierdie siekte veg. Mag die Here julle troos en bystaan. -M

oolfant.com

Read more from oolfant.com

Hallo Reader Hoe kan ek leer makliker vir my kinders maak? Dis ʼn vraag wat elke tuisskoolma soos jy haarself afvra. Hierdie week gee ek vir jou vyf wenke wat jou hiermee gaan help. #1 Gebruik die vier leerstyle (visueel-ruimtelik, lees, ouditief en om deur beweging te leer) maar doen dit op ʼn meer gesofistikeerde manier #2 Verstaan wanneer jy jou kind se selfbeeld moet uitbou en wanneer jy hom of haar moet help om vaardighede in te oefen #3 Leer van die nuwe navorsing wat vir eens en vir...

Hallo Reader In die goeie ou dae toe ons nog met ’n karavaan gaan vakansie hou het, slaap ons een jaar by die Gariepdam oor. Een van die lekkertes van kamp is dat mens nader is aan alles – behalwe die toilette! Nader aan die natuur, nader aan ander mense. Vir ons oorslaapnag is daar toe ander groep mense met seuntjies van omtrent ons Johannes se ouderdom. Hy was toe seker so ses, sewe jaar oud. Johannes is lus om maats te maak, maar hy weet nie hoe om te begin nie. Die ander seuntjies ken...

Hallo Reader Daar is vir my twee soorte swaarkry. Die een is amper soos om 100 meter te hardloop. Dis intens en verg baie inspanning, maar dis gou verby. Soos ʼn operasie of ʼn siekte of die ma wat verlede week vir my geskryf het hoe hulle gesin vasgekeer was in die onluste in KwaZulu Natal en hoe benoud hulle was. Die ander soort swaarkry is meer soos ʼn marathon. Dit hou aan en aan. Wat beteken dat jy ʼn pas moet aanslaan wat jou gaan help om die wedren klaar te maak. In ʼn marathon moet jy ook...